Talle boere het in Maart buite Douglas op die plaas Lüneburg bymekaar gekom om weer die gewilde GWK Groentoer by te woon. Goeie onlangse reëns, koeler weer en minder beurtkrag het die sowat 160 produsente en belangstellendes in ligte luim en gereed vir dié dag se aksie gehad.

Die Groentoer is ‘n spesiale inligtingsdag waar die GWK Landboudienste-span kennis en relevante landboutegnologie-inligting met die plaaslike produsente deel. Hoogtepunte van vanjaar se aanbieding het onder meer gassprekers, profielgat-besoeke, kultivarproewe en toerusting-demonstrasies ingesluit. Dit is die derde Groentoer wat Landboudienste se Johann Sounes reël en ná 2022 se suksesvolle terugkeer is hy dankbaar vir die goeie bywoning.

“Ons het ‘n goeie program in 2022 aangebied en soos gewoonlik probeer ons deurlopend vernuwe en verbeter. Ek glo 2023 se Groentoer het iets waardevols gebied vir elkeen wat die dag saam met ons deurgebring het. Dit was veral lekker om gehalte gassprekers soos megaboer Kallie Schoeman van Schoeman Boerdery en Theo Vorster van Galileo Capital by ons te verwelkom,” sê Sounes.

Ten spyte van ‘n uitdagende seisoen, vertel Sounes dat produsente oorgehaal was vir ‘n goeie Groentoer.

“Hierdie geleentheid bly steeds vir my en die span ‘n hoogtepunt. ‘n Paar maande terug het ons produsente voortslepende beurtkrag, ‘n verlengde hittegolf en verwoestende vloede beleef. In ‘n stadium het ons gedink dat die mielie-oes daarmee heen sal wees, maar tog staan ons vandag hier langs ‘n belowende oes. Die mense is lus vir samesyn en skouers skuur, en die groot getalle bywoners spreek boekdele. Die dag gaan oor die uitruil van waardevolle inligting en dit bly ‘n voorreg om so iets jaarliks suksesvol aan te bied.”

Met ‘n paar koppies vuurwarm koffie in die hand het produsente aandagtig na Theo Vorster en Kallie Schoeman geluister. Kort hierna was die eerste plaasbesoek op Lüneburg, waar Bayer ‘n saadproef aangebied het. Jaco Cilliers het op sy plaas De Hoek verskille in sy grondbewerking gewys, sowel as mielies waar striptill teenoor no-till toegepas was. GWK-landboukundiges Hannes Hattingh en Johann Sounes het ook twee mielieprofielgate se verskille uitgelig.

Theo Vorster (Galileo Capital) gesels met die produsente tydens die GWK Groentoer.

Smaaklike boereworsrolle is hier vir middagete aangebied, terwyl Jupidex hul indrukwekkende Andreoli-boordspuit met sy Waatic-slimstelsel ten toon gestel het. Een produsent wat vanjaar se Groentoer besonders geniet het, was Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar, Dewald Dempers. Hy het al die pad van Hartswater gereis om die dag by te woon.

“Vir my is die belangrikste doel van die Groentoer om meer te leer – om te kon sien wat in die Douglas-gebied werk en dit moontlik toe te pas in Vaalharts. Ek ry die 250 km met graagte om te sien watter grondbewerkingsmetodes hier gebruik word. Die besoek aan die profielgate en die verduideliking rondom striptill was baie interessant,” sê Dempers.

Die dag is afgesluit met ‘n GWK Meganisasie John Deere-demonstrasie en ‘n praatjie oor Pioneer-saad. GWK Meganisasie se Jason Prince (senior John Deere AMS-konsultant) het op sy beurt die nuwe John Deere 6140B sessilinder-trekker bekendgestel.

“Die sessilinder-trekker is deur John Deere ingebring bykomend tot die bestaande vier silinder reeks, omdat daar ‘n behoefte was vir ‘n sterker werkesel in die modelreeks. Die trekker pas aan by die meeste boerderye en staan vir geen harde werk terug nie. Ons glo hierdie model gaan in die groter GWK-bedieningsgebied nog vele suksesse lewer. Aan die AMS-kant het ons ‘n statiese uitstalling gehad, waar ons die nuwe SF7000-receiver bekendgestel het. Hierdie receiver kan op ‘n SF RTK-sein funksioneer, wat vir die verbruiker meer akkuraatheid en ‘n kostebesparing bied, sonder dat jy ‘n basisstasie benodig. Die groot verskeidenheid skerms wat in ons onderskeie John Deere-produkte gebruik word, is ook tydens die dag uitgestal.”

Prieska se Dirk van Wyk loop nie sommer die gewilde Groentoer mis nie.

“Ek sien elke jaar baie uit na die Groentoer. Dit is ‘n voorreg om in al die GWK-span se inligting wat oor die afgelope jaar versamel is, te kan deel en só ook meer te leer. Die dag gaan vir my oor netwerk en samesyn. Dit is vir my wonderlik om skouers te skuur met my bure, medeboere en verskeie leiers van die sektor,” vertel Van Wyk.

Hoof van GWK Landboudienste, Dup Haarhoff, vertel dat dae soos die Groentoer enorme waarde vir verskaffers en produsente inhou.

“Die grootste waarde van die Groentoer is die interaksie tussen die boere. Ons span is ook doelgerig met die proewe wat ons hier aanbied, en dit dra beslis by tot die sukses van die dag. Vanjaar was dit ekstra spesiaal om soveel jong boere by die geleentheid te sien. Almal het deelgeneem en besef dat ons almal vir dieselfde span speel. As ons saam werk en leer, kan ons ‘n groot verskil in landbou maak.”