Redakteursbrief

My ouma het altyd gesê “kos wat mooi is, proe lekkerder”.


By haar het ons altyd gouestroopbroodjies gekry met hundreds and thousands oorgesprinkel. En dit wás lekkerder.


So wonderlik as wat tegnologie deesdae is – dit verbind ons met die wêreld en hou ons ingelig – is daar tog ‘n donkerder kant. Ons is oorgestimuleer en só blootgestel, dat die verwerking van inligting ‘n mens kan oorweldig. Die internet filter nie die goed en die sleg nie, ons sien albei. Dit het uiteindelik, bewustelik of onbewustelik, ‘n invloed op ons gemoed wat oor tyd manifesteer.


Volgens data van die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO), weet meer as 40% van die wêreldbevolking nie hoe om emosionele probleme op te los nie, en 50% neem geen stappe om oplossings te vind nie. Emosionele gesondheid het sy kop uitgesteek as ‘n dringende probleem en as deel van oplossing hiervoor is om negatiewe emosies te verminder en positiewe emosies te verbeter, omdat dit die algemene gelukkigheid van die bevolking kan bevorder, en mense meer effektief kan laat werk.


Volgens sielkundiges het ‘n slegte bui ‘n direkte invloed op hoe ‘n mens goed sien. “‘n Goeie bui vergroot die ‘venster’ waardeur jy die wêreld sien,” sê Taylor Schmitz van die Universiteit van Toronto. “Dit lei daartoe dat ons dinge uit ‘n globale, geïntegreerde perspektief kan sien.”


Een van die kernoorsake van depressie is anhedonia, wat verwys na ‘n verlaagde vermoë om plesier te ervaar en verminderde motivering om beloning (“reward”) na te streef. In ‘n studie waar deelnemers aan positiewe visuele prente blootgestel is, is gevind dat deelnemers ‘n toename getoon het in die behoefte om doelwitte te bereik.

Ons is geseënd met die visuals waarmee die platteland ons bederf. Ek het dit opnuut besef toe GWK aan die einde van Desember die musiekvideo God Gaan Voor Ons Uit vrygestel het. Hierdie maand weer toe ek deur vanjaar se Groentoer-foto’s kyk. Die wêreld waarin ons werk, skep tonele waaroor ‘n mens stories wil skryf. Dis mooi genoeg om oor stroperig te raak.

Ons moet kies waarna ons kyk.


Ag, en strooi koeksprinkels oor jou gouestroopbroodjie.


Dit is vir ons belangrik om ons lesers ingelig te hou oor hoe die proses vorder ten opsigte van die voorgenome samesmelting tussen GWK en VKB. Ons lesers is bewus daarvan dat die Mededingingstribunaal die samesmelting goedgekeur in Desember het met sekere opskortende voorwaardes. Die proses om hieraan te voldoen, vorder goed en ons hoop om binnekort in ‘n posisie te wees om met ons lesers te deel hoe die proses vorentoe sal lyk.

LEANA BEZUIDENHOUT