Oplossings gesoek vir Eskom, beurtkrag en boere

Net soos droogtes en plae, is beurtkrag op plase nie ‘n landbou-probleem nie. Dit is ‘n probleem waarvan die tentakels tot in elke Suid-Afrikaner se bestaan reik.


In die vorige uitgawe van Kommuniek is terugvoer gegee oor die grootskaalse optogte wat deur boere en plaaswerkers in die Noord-Kaap geïnisieer is om bewusmaking te skep oor die impak van beurtkrag op voedselsekerheid. Het hierdie bewusmaking enige reaksie ontlont? En waar lê die verantwoordelikheid nou eintlik?

Die oeste

‘n Lugfoto wys droogteskade, wat deur beurtkrag veroorsaak is, op mielies.

Tot aan die einde van Januarie het mielie-aanplantings groot klimaatsdruk ervaar en swak oeste is gelewer, aldus André Prins, gewasnavorsingsbestuurder van GWK Landboudienste.


“In die laaste week van Januarie het temperature egter gedaal. Meer gereelde reënval het voorgekom en dit het baie druk van die besproeiingsprodusente afgeneem. Die laaste deel van die seisoen was baie gematig en plante kon oor die algemeen goed herstel ná die ‘droogte’ wat deur beurtkrag veroorsaak is,” sê Prins.


Hy sê verder dat vroeë mielies reeds stroopgereed is, “en volgens inligting ontvang, is die opbrengs oor die algemeen beter as wat verwag is. Die toedien van water het egter verskille in opbrengs uitgelig. Dit kom voor asof die spilpunte met besproeiingspakkette van 12 mm beter resultate toon as spilpunte met 10 mm pakkette; die kleiner spilpunte kon nie genoeg water per toediening lewer nie. Die afleiding is dat waar produsente die water effektief kon bestuur, die opbrengs nie baie nadelig beïnvloed is nie.”


Mielies wat ná koring geplant is, is nog nie gereed vir stroop nie, sê Prins. Hier word egter dieselfde tendens as by die vroeë mielies verwag. Produsente wat probleme met water ervaar het, kan swakker-as-gemiddelde oeste (wissellend tussen 5 en 15%) verwag, teenoor opbrengste van gemiddeld tot 5% beter as gemiddeld.


“Mielie-aanplantings voor Desember beslaan ongeveer 24% van die oppervlak,” sê hy. “Die groter aanplantings was nie tydens blom só blootgestel aan die warm klimaat nie. Die kort opsomming is dus dat ‘n ‘gemiddelde’ opbrengs verwag, word maar daar is sekere produsente wat uitdagings kan ervaar.”


Nasionaal


Voor die staatsrede op 9 Februarie, het Agri SA ‘n beroep gedoen op president Ramaphosa om die landbousektor as ‘n noodsaaklike diens te verklaar en gedeeltelik vry te skeld van beurtkrag, spesifiek bo vlak 4. “Dit sal toelaat dat daar vir genoeg ure aaneen elektrisiteit is om besproeiingstelsels te laat loop,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA (wat aan die einde van Februarie uitgetree het). “Beurtkrag kniehalter egter nie net besproeiing nie, maar het ‘n rampspoedige impak op operasionele prosesse, prosessering, verpakking en verkoeling van kosprodukte. Terwyl boere probeer om hierdie impak te bestuur, word noemenswaardige uitgawes aangegaan op bykomende brandstof en stygende arbeidskoste. Die gevolge word sigbaar op plaaslike winkelrakke, maar die werklike impak volg nog. Dit hou ‘n wesenlike risiko vir voedselverskaffing in – rakke gaan leeg wees as boere nie verligting aangebied word nie.”


In 2021 het landbou 2,91% bygedra tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP), met ‘n toegevoegde waarde van sowat R131,1 miljard wat verder bygedra is. Volgens navorsing wat deur Nova Economics namens Eskom uitgevoer is, word geraam dat ‘n 1% afname in energieverkope direk gelykstaande is aan ‘n 0,4% afname in die groei van Suid-Afrika se BBP.


Die navorsingsverslag het verder getoon dat die landbousektor die hardste deur beurtkrag getref word weens die bedryf se afhanklikheid van besproeiing en verkoeling. Die studie toon dat die koste van beurtkrag vir landbou R4,01 per kWh beloop, in terme van 2020-waardes. Dit beteken dat, vir elke eenheid krag wat gebruik word, die sektor R4,01 se uitsette produseer. Die afleiding kan dan gemaak word dat die sektor R4,01 se uitsette verloor vir elke kWh se elektrisiteit wat nie voorsien word nie. Data toon dat 11 GWh se beurtkrag verlede jaar aangeteken is – meer as vier en ‘n half keer meer as die vorige jaar. Die som daarvan is ‘n geraamde R47 miljard se verlies vir die landbousektor – ‘n reuseslag vir die landelike ekonomie.


Dié organisasie is van mening dat ‘n katastrofe vir ons land dreig indien hierdie maatreëls nie geïmplementeer word nie. Verbruikers gaan waarskynlik ‘n styging in kospryse sien as gevolg van verhoogde insetkostes en uitdagings in die voorsieningsketting, en beurtkrag se invloed sypel dus deur na die totale ekonomie. Eskom se geïntegreerde verslag toon beurtkrag se invloed per dag as volg aan:

  • Vlak 1 (of beurtkrag van 1 000 MW) kos R235,5 miljoen per dag
  • Vlak 2 (beurtkrag van 2 000 MW) kos R471,3 miljoen per dag
  • Vlak 3 (beurtkrag van 3 000 MW) kos R706,7 miljoen per dag
  • Vlak 4 (beurtkrag van 4 000 MW) kos R942,4 miljoen per dag

Besighede en huishoudings moet alternatiewe elektrisiteitsoplossings vind vir kragonderbrekings, wat tot ‘n afname in produktiwiteit en ‘n toename in uitgawes lei.

Die beroep wat Agri SA op president Ramaphosa gedoen het, was om te verseker dat die volgende maatreëls onmiddellik in plek gestel word:

  1. Verklaar die landbousektor en gepaardgaande waardeketting tot noodsaaklike dienste;
  2. Die landbousektor moet gedeeltelik vrygestel word van beurtkrag ná fase 4;
  3. Maak voorsiening vir hoër kortings op diesel en petrol wat vir elektrisiteitsopwekking gebruik word;
  4. Wysig die huidige tariefstruktuur om die koste van elektrisiteit tydens spitstye te verminder;
  5. Handel beurtkragskedules met behulp van ’n plaaslike uitvoerbaarheidstudie (‘n vlakbenadering kan gevolg word deur rooi, oranje en groen te gebruik om kritieke gebiede te identifiseer); en
  6. Brei vragbeperking vinnig uit na alle landbougebiede wat daarvoor kwalifiseer. (Vragbeperking is 'n reëling wat suksesvol deur Eskom met Bergrivierboere geloods word, waar boere, in ruil vir die verlaging van hul elektrisiteitsverbruik wanneer Eskom hulle vra, nie beurtkrag kry nie.)


Provinsiaal


Dirk Krapohl, uitvoerende bestuurder van Agri Noord-Kaap, sê hoewel die optogte nodig en belangrik was, het dit nie onderhandelinge met Eskom bespoedig nie. “Die Noord-Kaapse LUR van landbou het alle landbouorganisasies uitgenooi na ‘n vergadering waar Agri Noord-Kaap die impak van beurtkrag herbevestig het,” sê Krapohl. “Ons het die voorstel gemaak om landbou permanent op fase 2-beurtkrag te hou, of dan minstens op een vlak laer as die res van die land. Besproeiingsareas in die Noord-Kaap kan opgedeel word in vier streke waarin beurtkrag op rotasiebasis toegepas word, sodat boere se elektrisiteit slegs een keer per dag onderbreek word. Ons is steeds in onderhandeling met Eskom om oplossings te vind.”


Hy sê verder dat Agri NK ‘n komitee gestig het wat bestaan uit twee lede van hulle organisasie, ‘n verteenwoordiger van Graan SA en ‘n verteenwoordiger van Raisins SA om te verseker dat boere regoor die spektrum van besproeiingsareas verteenwoordig word op vergaderings met Eskom. Tot op hede het dié komitee saam met ander organisasies vier vergaderings met Eskom gehad, waar voorstelle aan die energieverskaffer gemaak is:

  • Identifiseer kragvoerders in besproeiingsareas op plaaslike vlak. Dit sal help om ‘n beurtkragskedule te beplan met langer aan-tye tussen die af-tye sodat besproeiingsiklusse voltooi kan word.
  • Beter beplanning van die vraag en aanbod van krag volgens bedrywe se behoeftes in sekere tye.
  • Verdeel piektye in Noord-Kaapse besproeiingsareas in vier siklusse wat op rotasiebasis beurtkrag kry (een onderbreking per dag in plaas van verskeie onderbrekings).

Die kragvoerder-inligting wat Agri NK aan Eskom verskaf is, geanaliseer en moontlikhede ondersoek. Kragvoerders, pale en transformators is in verskillende kategorieë verdeel om te sien waar beurtkrag uitgesluit kan word, drakrag hergroepeer kan word, ensovoorts.


“Daar is egter uitdagings hierrondom,” sê Krapohl. “Dit sal vereis dat daar meer gereeld elektrisiteit met die hand af- en aangesit moet word, wat lei tot meer koste in terme van oortyd en afstande gereis tussen substasies. Vertraging kan ook verwaag word. Sekere voorstelle was nie uitvoerbaar nie weens die kompleksiteit in die ligging van kraglyne en ander faktore.”


Krapohl sê die beste opsie tans blyk om lading-inkorting (“curtailment”) toe te pas – ‘n opsie wat goed deur Eskom ontvang is.


“Dit sal streng monitering vereis van die betrokke landbou-unies en -verenigings,” sê hy. “Die betrokke omliggende gemeenskappe wat onder dié spesifieke kragvoerders val, gaan ook hierby moet inkoop. Op elke fase van beurtkrag is daar ‘n spesifieke persentasie besparing wat hierdie lading-inkorting benodig. ‘n Kontrak sal met die betrokke kragvoerder se gemeenskap onderteken moet word en die vereistes sal dan getrou nagekom moet word.”


Agri NK het versoek dat ‘n kragvoerder wat slegs landboubedrywighede diens, geïdentifiseer moet word. “Een is geïdentifiseer,” sê Krapohl, “Mooidraai in die Prieska-distrik. Prieska se boere en ander rolspelers is aan boord om die projek te loods. ‘n Loodsprojek is eers geïdentifiseer en dan sal implementering plaasvind. Indien hierdie projek suksesvol is, sal ons dit uitbrei na die res van die provinsie.”


Kommuniek volg hierdie verwikkelinge en sal daaroor berig.


*Bron: Agri (Feb/Mrt 2023)