Landzicht-wyn van die maand: Winemaker’s Reserve Cabernet Sauvignon

Landzicht het oor die jare verskeie toekennings vir sy uitstaande wyne ontvang. In 2017 wen die kelder die gesogte Old Mutual Trophy Wine Show se American Express Trophy for Best Cabernet Sauvignon vir hul 2015 Winemaker’s Reserve Cabernet Sauvignon.

Nodeloos om te sê het hierdie uitsonderlike wyn vinnig uitverkoop en behoorlik dié Noord-Kaapse kelder op die kaart geplaas. Daarom is ons wyn van die maand die geliefde Winemaker’s Reserve Cabernet Sauvignon.

Cabernet Sauvignon is Suid-Afrika se mees-aangeplante rooi druifsoort. Dit word as ‘n enkelvariëteit geniet, sowel as in bekende SA-versnitte waar Cinsault of Shiraz bygevoeg word. Die byvoeging van hierdie twee variëteite help om Cabernet se tanniene te versag.


Die areas waar die meeste Cabernet Sauvignon aangeplant word, is die Paarl, Robertson en Stellenbosch. Die Swartland het ook ongelooflike Cabernet’s, maar die aanplantings is aansienlik kleiner. Ongeveer 11% van Suid-Afrika se totale wingerdaanplantings is Cabernet Sauvignon. Hoewel die presiese datum nie bevestig kan word nie, word dié druif in Suid-Afrika reeds sedert die 1920’s met ‘n eersteklas enkelvariëteit wyn geassosieer.

Watter disse kan saam met Cabernet Sauvignon geniet word?

Cabernet Sauvignon en rooivleis is gemaak vir mekaar. ‘n Smaaklike biefstuk met ‘n pepersous en Cabernet Sauvignon is seker van die lekkerste kombinasies wat ‘n mens moet probeer. Biefburgers, skaaptjops, ribbetjies en selfs enige lamgeregte gaan perfek pas by hierdie rooiwyn.


Jy moet ook nie van wildsvleis en Cabernet vergeet nie. Harder kase pas ook by dié wyn en ryk donkersjokolade-disse word na die volgende vlak geneem wanneer daar ‘n glas Cabernet by is. Moenie van jou groente of vegetariese disse vergeet nie! Sampioene en groente-lasagne pas ook by die veelsydige wyn.


Smaak kenmerke sluit in:

  • Swartbessie
  • Pruime
  • Swart kersies
  • Groenpeper
  • Vanielje

Met koeler temperature en die winter wat nader staan is dit nou die regte tyd om jou gunsteling Cabernet Sauvignon oop te maak. Steek jou vuur aan, braai ‘n lekker vleisie en verander ‘n gewone ete in ‘n gourmet ete met ‘n heerlike glas Landzicht Winemaker’s Reserve Cabernet Sauvignon.


Vind Landzicht hier:

Besoek die kelder in Douglas, of skakel direk met hulle by 053 298 8314 of wynkelder@gwk.co.za vir meer inligting.